Terug na Tuisblad

Kindersielkundige in Vereeniging
 en in Nelspruit


Dr. Dinelle Faul

(Kliniese Sielkundige)



Telefoon: 082 686 7955

Wanneer die lewe jou kind druk, kom dit op baie maniere in hulle gedrag tot uiting. By sommige kinders veroorsaak dit dat hulle skielik nie wil deurslaap in die nag nie, of dat hulle nie in hulle eie kamers wil slaap nie, maar tussen ma en pa wil inkruip. Ander kinders raak bang en huilerig as hulle nie vir ma of pa fisies sien nie.

Om skool toe te gaan verander in ‘n tranedal wat dit ook vir die ouers baie moeilik maak om hulle huilende kinders alleen by die skool te laat.

Sommige kinders reageer op spanning deur stil te raak, te onttrek en nie meer met maatjies te speel nie. Dit is nie ongewoon vir kinders om kwaad te word oor wat met hulle gebeur en dan hierdie woede in hulle optrede te wys, deur net nie meer na ma of pa se reëls te luister nie. Hulle kan weier om hulle samewerking te gee en selfs tantrum in ‘n poging om hulle sin te kry. Hoewel hierdie soort gedrag die lewe vir die ouer baie moeilik kan maak, is dit in werklikheid die kinders se hulproep. Dis hulle manier om te wys dat hulle hulp nodig het.

Dis veral die kleiner kind wat op hierdie manier om hulp roep. Te meer so omdat hulle nie die vermoë het om in woorde te vertel hoe gebeure hulle affekteer nie. Hulle wys dit eerder.

Wanneer jou kind gehelp word, is dit juis hierdie onvermoë om hul belewenis te verwoord wat oorkom moet word. En speel is die mees natuurlike manier om hierdie blokkasie te oorkom. Vandaar die feit dat kinders gehelp word deur middel van speelterapie. Veral die kleiner kind.

Daarom word ‘n kindervriendelike speelkamer gebruik as die omgewing waarin die kind gehelp word. In hierdie veilige omgewing word die kind dan gehelp om in en deur middel van speel te verwoord wat hulle beleef. Hulle kan hulle vrese, bekommernisse, unieke behoeftes en innerlike beleweniswêreld met die terapeut speel-speel deel. Wanneer die terapeut die kind beter verstaan, werk hy/sy dan saam met die ouers om met oplossings vorendag te kom.

Hierdie praktyk maak gebruik van Kindgesentreerde Speelterapie wat daarop fokus om kinders te help om traumatiese gebeure in hulle lewe te verwerk en hulle selfvertroue en selfbeeld te verbeter.  Kinders leer speel-speel om op ‘n kreatiewe wyse weer hulle sprankel, lewenslus en waagmoed terug te kry.

‘n Helpende hand vir jou kind…

Ons kan ongelukkig tans geen pasiënte (volwasenes of kinders) persoonlik in ons spreekkamer sien nie. In hierdie tyd ondersteun ons wel ouers deur middel van Telehealth terapeutiese sessies. Dit behels dat ons ouerleiding en ander terapeutiese hulp kan bied aan ouers via elektroniese platvorms soos Zoom. U kan vanuit die gemak van u huis met ons kontak maak.

As jy ‘n Zoom of telefoon sessie met ons wil reël, bel ons… of kliek net hieronder… en stuur vir ons ‘n e-pos vanaf ons kontak bladsy. Ons sal jou dan help om die nodige reëlings in plek te sit.

Kliek hieronder om
‘n terapeutiese sessie te reël

Terug na Tuisblad